Jim Fouche

Uit die Hoof se Kantoor

HomeUit die Hoof se Kantoor
JIM FOUCHé

ONS SKOOLHOOF NOOI JOU UIT!

JF is meer as net ‘n skool…dit is ‘n leefwyse. Op die vooraand van een van die belangrikste keuses in jou jongmenslewe, is dit vir my ‘n voorreg om met jou ‘n gedagte of twee te deel oor hoekom my bloed groen is.

Gelukkige kinders presteer… Hier wil ons nie net hê dat jy hard moet leer en hard moet speel nie, maar as ‘n mens in geheel ontwikkel. Ons streef daarna om ‘n gelukkige en standvastige tiener, geanker in geloof, integriteit, verantwoordelikheid, lojaliteit, omgee en respek die wêreld in te stuur.

Met hierdie gedagte gaan ons uit ons pad uit om te verseker dat ons net die bes toegeruste, toegewyde en bekwame personeel aanstel, fasiliteite van hoogstaande gehalte bied en ‘n terrein en tuine skep waarop elke ouer en kind trots kan wees , ‘n ware lushof. Ons glo dat as jy ‘n kind soos ‘n “10 uit 10” behandel hy /sy ook soos ‘n “10” sal optree.

Mnr Henri Wilken – SKOOLHOOF
hoof@jf.co.za

Oor prestasies kan daar seker boeke vol geskryf word, maar hierdie is nie die plek daarvoor nie. Prestasies val nie uit die lug uit nie, dis emmersvol genade en pligsgetroue, harde werk deur onderwysers en kinders op die akademiese sowel as buitemuurse gebied. Vir ons by JF is die leerder wat 8 of 9 onderskeidings behaal, sowel as die leerder wat dalk as gevolg van baie uitdagende toestande net-net matriek slaag, ewe belangrik. Daarom het ons uitstekende ondersteuningstrukture in plek om vir elke kind ‘n plekkie in die son te gee. ’n Eerstespan oorwinning, ‘n 0/14 C span wat dalk die spit moet afbyt, die leerder wat na ‘n wedstryd uit sy/haar eie uit die pawiljoen skoonmaak of die leerders wat elke oggend getrou die landsvlag hys…dit is JF, dit is #trotsjf.

Ek wil jou uitdaag om deel te word van die JF -familie, om ons die kans te gee om in jou toekoms te saai en glo dat jy na 5 jaar terug sal kyk op ‘n oorvloedige oes…die beste 5 jaar van jou jongmenslewe.

Matt 13 : 3 en 8

“ ’n Saaier het uitgegaan om te saai…

‘n Deel het op goeie grond geval en vrug opgelewer – een honderd – die ander sestig – die ander dertigvoudig “

Mag die Here voortgaan om ons pragtige skool te seën terwyl ons die leuse van JF uitleef : “ Saai om te oes”