Ons Geloof

HomeOns Geloof

Hoërskool Jim Fouché

JF CREDO

Hoërskool Jim Fouché se godsdiens- en waardebeleide het ten doel om die leerder in staat te stel om holisties te groei in die religieuse, geestelike en morele aspekte van sy wese.

Die doel is dat die leerder ‘n toegeruste lid van die samelewing sal wees wat omgee vir en bydra tot die gemeenskap, terwyl hy waardering het vir sy geloof en waardes en terselfdertyd die reg van ander op hul geloof en waardes respekteer.

Bogenoemde beleide berus op die wil van die skoolgemeenskap wat dit bedien. Die skool verwelkom egter leerders van alle godsdienstige oortuigings. Indien leerders ’n bepaalde godsdienstige verband aanhang, sal redelike en billike maatreëls getref word om vir hulle godsdiensbeoefening by die skool voorsiening te maak.

Deur ons waardes wil ons verder ’n platform skep van vertroue en uitnemendheid waar elke leerder, getrou aan ons visie en missie, sal groei in elke aspek van geheelmensontwikkeling om sy/ haar potensiaal te bereik. Geloof is die basis waarop ons vyf waardes rus, naamlik: respek, omgee, verantwoordelikheid, integriteit en lojaliteit. Daar word twee weke per jaar gewy aan die inskerping van elke waarde by ons leerders sodat ons waardes nie bloot woorde op mure sal wees nie, maar ’n leefwyse.

Ons Christelike aksies word gedryf deur JFFJ (Jim Fouché vir Jesus). Die visie van JFFJ is om elke leerder wat hom/ haar vrywillig onderwerp aan ons inspraak, met die liefde en geduld van Jesus te begelei na ’n lewende verhouding met God Drie-enig. Ons poog om hulle te lei om hul ware identiteit in Hom te vind en om hul lewensdoel te ontdek, sodat hulle ware ambassadeurs vir Jesus Christus sal wees waar hulle ook eendag sal werk en leef.

Die JFFJ-program bestaan uit die volgende aktiwiteite:

Tydens JF-periodes op Woensdae in skooltyd, kan leerders kies watter een van die volgende aktiwiteite hulle wil bywoon:

JFFJ

Sprekers word genooi om leerders toe te spreek oor een of ander aspek van geestelike groei, gegrond op Bybelse waarhede.

Alpha-program

Geestelike groei word bevorder aan die hand van Alpha-video’s en gonsgroepies onder leiding van groepleiers.

JFMP

Fokus op motivering en persoonlike ontwikkeling.
  • Op Woensdagaande word JFFJ-programme aangebied deur personeel in samewerking met JFFJ-leiers. Hierdie programme bestaan gewoonlik uit genotvolle ysbrekers, lofprysing en aanbidding, en Woordbediening.
  • Daar is ook ’n groot verskeidenheid ander aktiwiteite, bv.:
    • Kursusse soos Fathers Embrace
    • Gebedsgroepies
    • “Connect-aande”
    • Uitreike, ens.
TYE

Die skooldag begin stiptelik om 07:25 en sluit stiptelik om 13:40. Leerders moet betyds kom vir skool.

Geen laatkommery nie.

SKOOLBESOEK
  • Gereelde en stiptelike skoolbesoek is ‘n vereiste.
  • In die geval van afwesigheid moet die ouer skriftelik kennis gee op dieselfde dag wanneer die leerder terugkom. (Al was die leerder net 1 dag afwesig)
  • Wanneer ‘n leerder langer as 3 dae afwesig is, moet ‘n mediese sertifikaat ingedien word.
  • Wanneer ‘n leerder vir enige vraestel gedurende die eksamen afwesig is, moet ’n mediese sertifikaat ingehandig word.
  • Geen tandarts- of doktersafsprake mag tydens skoolure gemaak word nie. Ook nie afsprake t.o.v. rybewyse nie.
  • Slegs met die skriftelike toestemming van die skoolhoof mag leerders die skoolterrein tydens skoolure verlaat.
  • Die koshuise mag nie gedurende skoolure besoek word nie. Koshuisleerders moet by mnr. Taylor ’n toestemmingsbrief kry indien hulle koshuis toe wil gaan.
  • Leerders moet deur ouers self uitgeteken word, andersins moet ouers skriftelik of telefonies reël indien ‘n ander persoon die leerder moet uitteken.
PERIODEWISSELING / EKSAMENWISSELING
  • Periodewisseling moet ordelik geskied.
  • Die trappe moet ook volgens voorskrifte gebruik word en leerders het vier minute om die volgende klas te bereik.
  • Wisseling vind kloksgewys plaas.
  • Tydens pouse in eksamentyd moet leerders ordelik, vinnig en in stilte na die snoepwinkel beweeg en op dieselfde wyse terugkeer. Volg die kortste roete.
AFWESIG VAN DIENSPUNT
  • Gedurende onderrigtyd of sportoefening mag geen leerder sonder toestemming uit ‘n klas, sportspan of van ‘n dienspunt afwesig wees nie.
  • Geen leerder mag buite onderrigtyd in ‘n klaskamer wees sonder die toestemming van ‘n onderwyser nie
ROOK

Rook en/of besit van sigarette, aanstekers en vuurhoutjies, asook om in die teenwoordigheid van ‘n roker te wees, word ten strengste verbied. Die nuwe tabakwet verbied rook in geboue en op skoolterreine. Dit is dus nie ’n skoolreël nie, maar ’n landswet.

DWELMGEBRUIK / -MISBRUIK

Volgens Onderwyswet 84 van Artikel 8a van 1996 mag enige leerder vir dwelms getoets word en die ouers sal binne 24 uur van die uitslag in kennis gestel word.

KOUGOM

Kougom, asook eet en drink in klaskamers is heeltemal verbode.

VERHOUDINGS

Hande vashou en liefkosings op die skoolterrein is ontoelaatbaar.

SELFONE

Die belangrikheid van selfone as kommunikasiemiddel word deur die skool erken. Saam met die besit van ‘n selfoon is daar egter ook gepaardgaande verantwoordelikhede.

Die volgende gedragskode geld met betrekking tot selfone en elektroniese toestelle:

  • Die eienaar is verantwoordelik vir die veiligheid van die selfoon. Die skool kan nie verantwoordelik gehou word vir enige verliese nie. Geen afkondigings i.v.m. verlore selfone sal gemaak word nie.
  • Die beste veiligheidsmaatreël is steeds om nie bekend te maak dat jy ‘n selfoon by jou het nie.
  • Gedurende les-ure en eksamens moet die selfoon afgeskakel wees (dus ook nie op stil/vibreer nie), ten einde ons leerders die geleentheid te gee om volle aandag in die klas te gee.
  • Gedurende die periode moet alle elektroniese toestelle soos selfone en oorfone ook buite sig wees. Selfone mag nie in die plek van sakrekenaars gebruik word nie.
  • Indien daar die moontlikheid van ‘n dringende boodskap is, kan die sekretaresse geskakel word wat dan die boodskap aan die leerder sal oordra.
  • Selfone en oorfone mag dus slegs voor skool, tydens pouses en na skool gebruik word.
  • Oortreding van bogenoemde gedragskode kan tot die konfiskering van die selfoon lei.
  • Leerders kan hulle selfone terugkoop teen ‘n vasgestelde boete van R100 betaalbaar aan die EINDE van die dag. Indien nie kan betaal, bly die selfoon tot aan die einde van die kwartaal in die kluis.
  • Leerders word aangemoedig en moet opgevoed word om selfoonetiket na te kom en die selfone positief te gebruik.
  • Indien ‘n selfoon as stoorplek vir onwelvoeglike en negatiewe materiaal gebruik word, is dit ook ontoelaatbaar by die skool.
VERBODE TERREIN

Gedurende die skooldag of na eksamen is die volgende terreine verbode:

  • Agter die busloods
  • Agter die netbalbane
  • Onder die B-veld paviljoen
  • Motorvoertuie
  • Parkeerareas
VOERTUIE EN VERKEER

Gebruik van die skoolterrein:

  • Geen leerder mag met fietse of motors op die skoolterrein peuter nie.
  • Geen leerder mag met ‘n motor/motorfiets op die skoolterrein of stoepe ry nie.
  • Slegs die voertuigpark mag vir motors en motorfietse gebruik word. Hierdie parkering is op eie risiko.
  • Geen leerder, of die speel van speletjies, word tussen die personeel se voertuie en afdakke toegelaat nie.
  • Geen skaatsplanke op die skoolterrein nie en geen fietse op stoepe toegelaat.
TAALGEBRUIK
Slegte en kwetsende taalgebruik is onaanvaarbaar en sal dienooreenkomstig hanteer word.
HUISWERK
  • ‘n Leerder moet elke dag huiswerk doen en die regte boeke skool toe bring.
  • Huiswerk afskryf en/of die voorsiening daarvan word ten strengste verbied.
  • Daar word te alle tye van leerders verwag om eerlik te wees.
GRAFFITI

Graffiti op banke, geboue, boeke of enige ander skooleiendom asook vandalisme word ten strengste afgekeur en verbied.

ROMMEL

Rommelstrooi is streng verbode. Vullisblikke is oral op die terrein waarin afval sorteer moet word.

 

VERBODE MATERIAAL

Die besit en/of die gebruik van die volgende materiaal is verbode:

  • alkohol
  • sigarette en ander dwelms
  • vuur- of ander gevaarlike wapens
  • pornografiese materiaal
  • CD’s, DVD’s, IPOD’s, Tablette, MP3 spelers en selfone waarop gevloek word of eksplisiete seksuele musiek opgeneem is.
ERNSTIGE OORTREDINGS

Die volgende is oortredings wat in ‘n baie ernstige lig beskou word:

  • Leerders wat dronk of in ‘n bedwelmde toestand is.
    Leerders wat kriminele oortredings pleeg.
  • Baklei
  • Intimidasie
  • Viktimisasie
  • Diefstal
  • Klip-, natgooiery
  • Rowwe/gevaarlike speletjies
  • Om iemand met enigiets te gooi / rekkies te skiet.

Volgens departementele voorskrifte word ouers van leerders wat in ‘n fisiese bakleiery betrokke was, aangemoedig om ‘n saak by die polisie aanhangig te maak. Die skool het ook die reg om so ‘n saak by die polisie aanhangig te maak.

TEN SLOTTE

Die ideaal is dat leerders nie die gedragskode (en dus die orde en dissipline van die skool) as iets beskou wat op hulle afgedwing word nie, maar dat hulle eerder uit selfdissipline daarby sal hou. Leerders moet uit lojaliteit en eie oortuiging by die orde en dissipline van die skool inval – en nie die gedragskode bloot uit vrees vir die gevolge gehoorsaam nie. Leerders moet die skool asook alles wat in en om die skool gebeur as hul eie beleef en self medeverantwoordelikheid daarvoor aanvaar.